Eintlik,
so blyk dit uit die jongste bevindinge van die versoeningsbarometer,
sou die vraag moet lui: Is ek eerstens n Suid-Afrikaner, of is ek
eerstens wit/swart/bruin?
Die jongste barometer is gister deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening bekend gemaak. Burgers se strewe na n verenigde nasionale identiteit het sedert 2003 van 72,9% tot 55% afgeneem. South Africans are disillusioned with the idea of a united nation, skryf Business Tech in sy beriggewing hieroor. (Die instituut se volledige verslag kan hier afgelaai word.)
Die Instituut wys daarop dat meer mense nou hulle volgens ras as belangrike merker van identiteit meet as voorheen.
Die redes hoef nie ver gesoek te word nie, beginnende by die nasionale uitsaaier wat in die Afrikaanse TV-nuus om 19:00 breedvoerig uit die verslag aangehaal het, maar in die opperste vorm van nuusmanipulasie hierdie deel van die verslag soos n stopstraat geïgnoreer het. En n ou waarheid van strategiese kommunikasie is as mense begin agterkom iemand probeer met hulle koppe smokkel, sal hulle hul daarteen verset.
Tot RSG se krediet is in die nuus om 16:00 genoem dat die Instituut
bevind het Suid-Afrikaners is ontnugter met die reënboognasie.
Maroela het telkemale daarop gewys dat die regering se rasbenepenheid en
eintlik obsessie met ras presies dít in die hand gaan werk n
rasbewustheid met die nodige rassisme as newe-produk.
Wat anders as daar nou waarskynlik meer rasgedrewe wette op die wetboek is as wat daar op die hoogtepunt van apartheid was? Wetgewing wat die mens se lewe van die wieg tot die graf rig, met geen aanduiding van n sonsondergangklousule nie. Veral as onthou word dat die vorige regering ruim voor 1994 die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het.
Weens die blanke se getalle, is die blankes se aandeel in die verkryging van die jongste persentasies eintlik onbeduidend, hoewel in die groter konteks nie minder belangrik nie.
Tradisioneel, hoe dieper die ANC in die moeilikheid (by sy eie kiesers) is, hoe harder word die rassetamboer gewoon geslaan en is alles weer reg.
Die jongste manifestasie was die minister van hoër onderwys en SAKP-leier, dr. Blade Nzimande, se monduitspoelery oor Akademia, waar die bysleep van ras suiwer n verbeeldingsvlug van die minister en sy adviseurs is.
Nie dat daar nie Afrikaners is wat help stook nie. Gister was daar n foto op Facebook van dr. Corné Mulder van die VF Plus saam met Anchen Dreyer (DA) en Lindiwe Zulu (ANC) afgeneem kort voor hul deelname aan n TV-program. Onderaan, nogal onder sy eie naam, skryf een: Ek pleeg eerder selfmoord as om saam met n m d (Nederlandse woord vir volwasse meisie) op n foto te verskyn.
Iemand wil nie dalk vir die persoon n stomp mes aanstuur ter wille van die Afrikaner se behoud in die land nie?
Nog n bevinding van die opname is dat net 53% van die blankes saamgestem het dat apartheid n misdaad teen die mensdom was. Hierteenoor het 80% van die swart mense, 77% Indiërs en 70% bruin mense dit geglo. In die geheel het 86,5% van die mense in 2003 gemeen apartheid was n misdaad teen die mensdom, teenoor 76,4% nou. (News 24 se opsomming van die verslag kan hier gelees word.)
Op die gevaar af om te oorvereenvoudig, of mis te kyk dat die verslag dalk metodologie- of uitlegfoute bevat, is dit moeilik om tot n ander gevolgtrekking te kom as dat die skynbare opwelling van ras-identtieit ten koste van nasionale identiteit nie deur n groot deel van die publiek van alle rasse as negatief ervaar word nie. Oor te veel ander aspekte is daar positiewe bevindings (dit sou inderdaad positief wees as dit met feite gestrook het). Net 24% van die ondervraagdes meen die ekonomiese toestande het versleg terwyl 39,5% meen dit het verbeter. Weliswaar meen 41,2% indiensneming het agteruitgeboer teenoor 31,1% wat meen dit het verbeter. Maar 44% meen rasseverhoudinge het die afgelope dekade verbeter, teenoor 17,4% wat meen dit het versleg. Altesaam 41,4% meen moraliteit het verbeter teenoor net 21,4% wat meen dit het versleg.
Met soveel skynbare inherente uitskieters en teenstrydighede moet die verslag met groot waaksaamheid, baie vertolking en heel waarskynlik n gesonde skoot skeptisisme deeglik bestudeer word alvorens dit in enige beleidsraamwerk ingeweef kan word.
n Insiggewende aanhaling uit die Instituut se opsomming van die verslag lui soos volg: Key findings point to a significant decline in confidence and trust in governance institutions. In particular, results show a drop in citizens confidence in governance institutions, especially national government (10.8% decrease since 2012), as well as a 13% increase in the percentage of citizens who feel that government does not care about people like them. It is of interest to note that these declines occurred in the wake of the African National Congress (ANC) National Conference that was held in Mangaung in December last year, and in the run-up to the 2014 general elections.
Teen dié tyd weet die Afrikaner dat hy maklik die sondebok gemaak word vir alles wat sleg is. Juis daarom moet die Afrikaner sorg dat sy neus skoon bly of eintlik meer: dat hy die morele hoë grond beklee. Die morele hoë grond maak dit moontlik dat Afrikaner-belangeorganisasies soos onlangs, die VN se onderskeie komitees met gesag kan toespreek en, gelaai met werklike feite, daar invloed kan uitoefen. Uiteindelik kan die Afrikaner hom beroep op internasionale geregtigheid.
Maar dan moet die Afrikaner die morele hoë grond beklee en die reg aan sy kant hê. En om ras, en veral rassisme en haatspraak-uitlatings deel hiervan te maak, is nie deel van die internasionale reg of die grondwet nie. In daardie geledere het ras net n negatiewe reg, met ander woorde, duidelike sake wat verbied word, soos dat daar nie onbillik teen n bepaalde ras gediskrimineer mag word nie, dat daar nie haatspraak teen n ander ras gepleeg mag word nie, ensovoorts. Maar kom dit by minderheidsregte, is daar ook positiewe regte wat uitgeoefen mag word. Maar in ons grondwet, soos in artikel 235, en in die internasionale reg soos universiteite vir minderheidstale, is ras uitgesluit. Die twee soorte regte moet dus duidelik geskei word as die Afrikaner wil droom oor enige minderheidsregte.
En haatspraak is nie die manier om daar uit te kom nie.
Die debat oor Suid-Afrikanerskap eerste sal nog lank woed, en die wyse waarop analiste dit aanspreek, en die regering die voetwerk (reg) doen, gaan tot n groot mate die uitkoms bepaal. Maar as die regering gemeen het optredes wat tot vervreemding van gemeenskappe lei (die verslag toon aan dat bruin mense van die mees ontnugterdes is) is n metode om nasionale eenheid aanmekaar te timmer, wys die verslag nou dat dit boemerang.