President Jacob Zuma Foto: @newswallcoza, Twitter
President Jacob Zuma het Woensdag erken dat die ANC geskud is en in die moeilikheid is.
Die jeugliga is geskud, maar die moederliggaam is ook geskud, het
hy aan afgevaardigdes by die ANC-jeugliga se konsultatiewe konferensie
in Soweto, Johannesburg, gesê. Ons erken dat die organisasie in die
moeilikheid is.
Zuma verwys na gesprekke Dinsdag tussen die ANC se gekombineerde nasionale werkkomitee en die nasionale uitvoerende komitee.
Ek kan jou waarborg dat as alles met die ANC verkeerd loop, sal
alles in die land verkeerd loop. Daar is geen twyfel daaroor nie, het
hy gesê. Hy het die jeugliga-lede gemaan om die ANC te verdedig.
Voordat Zuma opgedaag het, het afgevaardigdes liedere gesing wat die
president vereer, en gesing, lei ons Zuma, in isiZulu. Toe hy by die
saal instap, het die afgevaardigdes gejuig en Umshini wam (bring my
masjiengeweer) gesing.
Die ANC-jeugliga se konferensie moes die jeugliga se
verkiesingskonferensie gewees het, maar die nasionale taakspan het
Dinsdag aangekondig dat die afgevaardigdes nie nuwe leiers sal aanstel
nie. Magasela Mzobe, koördineerder van die taakspan, het gesê die
verkiesingsfase is vir 2015 beplan. Dit is die tweede keer dat die
verkiesing vir nuwe leiers uitgestel word. Die eerste een moes reeds
tussen 24 en 28 September plaasgevind het.
Mzobe het vandeesweek gesê die konsultatiewe forum sal slegs
politieke, organisatoriese en funksionele verslae hanteer en sal
kommissies hê wat die beleidsdokumente hanteer. Die nasionale taakspan
is verlede jaar ingestel nadat die ANC die besluit geneem het om die
ANC-jeugliga se nasionale uitvoerende komitee te ontbind.
ʼn Aantal afgevaardigdes was ongelukkig dat die verkiesing vir nuwe
leiers weer uitgestel is. ʼn Groep afgevaardigdes van Gauteng was
oproerig en het sommige ANC-leiers afgejak deur boo! te skree. Hulle
het ook boo! geskree omdat hulle nie by die konferensie mag stem nie.
Zuma het tydens sy toespraak aan die afgevaardigdes gesê die ANC het
die besluit geneem om die jeugliga se konferensie eerder ʼn
konsultatiewe-konferensie, in plaas van ʼn verkiesingskonferensie te
maak. Ons wou nie dieselfde uitslag hê as die vorige keer nie, het hy
gesê, met verwysing na die omstrede 2011-konferensie toe voormalige
ANC-jeugligaleier, Julius Malema, vir ʼn tweede termyn verkies is.
Daar was reeds talle uitdagings voor die konferensie. Terwyl ons met
die nasionale taakspan vergader het om die konferensie te bespreek, en
hulle verslag gedoen het, was ons nie oortuig dat dit veel anders sou
wees as die vorige konferensie nie, het Zuma gesê. Ons [die ANC] het
aan die nasionale taakspan gesê ons kan julle nie toelaat om voort te
gaan nie.
Zuma het gesê indien die ANC-jeugliga se verkiesingskonferensie
hierdie week sou plaasgevind het, sou dit weer ontbind moes word. Hy het
die afgevaardigdes aangemoedig om die konsultatiewe konferensie te
gebruik om die jeugliga weer op te bou. Dit word gedoen ter wille van
die hele beweging.
Hy het gesê die afgevaardigdes raak te opgewonde wanneer hulle nuwe leiers moet kies, en vergeet dan van beleidskwessies.
Dit was die regte besluit om te neem. Miskien dink jy as ʼn individu
of julle as groep dat dit nie die regte besluit was nie, maar dan plaas
jy nie die organisasie eerste nie. Ons is hier vandag, maar ons sal nie
môre hier wees nie
maar die ANC sal. Kom ons plaas die ANC eerste, het
hy gesê.
Senior leiers van die ANC insluitend twee voormalige
ANC-jeugligapresidente, minister van binnelandse sake Malusi Gigaba en
sportminister Fikile Mbalula het ook die konferensie bygewoon. Gwede
Mantashe, sekretaris-generaal van die party; sy adjunk Jessie Duarte; en
ANC-tesourier Zweli Mkhize was ook teenwoordig.