1.
Uit die blou van onse hemel,
uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
waar die kranse antwoord gee.
Deur ons ver-verlate vlaktes
met die kreun van ossewa
Ruis die stem van ons geliefde,
van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem,
ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe -
ons vir jou, Suid-Afrika.
2.
In die merg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede,
in ons hoop of wat sal wees,
In ons wil en werk en wandel,
van ons wieg tot aan ons graf
Deel geen ander land ons liefde,
trek geen ander trou ons af.
Vaderland! ons sal die adel
van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners -
kinders van Suid-Afrika.
3.
In die songloed van ons somer,
in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde,
in die lanfer van ons rou,
By die klink van huweliksklokkies,
by die kluitklap op die kis
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit nee nie,
sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe -
ja, ons kom Suid-Afrika.
4.
Op U Almag vas vertrouend
het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here!
om te handhaaf en te hou
Dat die erwe van ons vad're
vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste,
teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het,
leer ook ons vertrou, o Heer
Met ons land en met ons nasie
sal dit wel wees, God regeer.